Responsive image

Jong tennisspeler van Curro Durbanville mik hoog

Milan Swanepoel in aksie op die tennisbaan.

 

’n Jong tennisspeler (12) van Curro Durbanville se droom om ’n professionele tennisspeler te word, het vlerke gekry toe sy onlangs gekies is as een van slegs 24 o.12-spelers wêreldwyd om later vandeesmaand aan die o.12-wêreldkampioenskap in Athene in Griekeland deel te neem.

Milan Swanepoel het Maandag in Bloemfontein skoonskip gemaak in haar ouderdomskategorie by Tennis Suid-Afrika se nasionale junior tenniskampioenskap.

Sy vlieg volgende Woensdag oorsee vir ’n toernooi en om daarna in Griekeland aan die wêreldkampioenskap deel te neem.

Milan, wie se gesin in Vredendal bly, woon sedert Oktober verlede jaar by haar grootouers, Helena en Frans Kotzé in die Oakwood Estate in Pinehurst, sodat sy haar beter op haar tennisloopbaan kan toespits.

Milan is ’n graad 6-leerder by Curro Durbanville, maar sy woon tans voltyds van 09:00 tot 18:00 die Anthony Harris Academy in Seepunt by ter voorbereiding vir die IMG Future Stars-wêreldkampioenskap.

Sy neem ook aan toernooie deel en speel oor naweke klubtennis.

Milan het verlede jaar die eerste posisie landwyd op die rangleer van Tennis Suid-Afrika beklee. Sy is tans tweede in die o.12-kategorie omdat sy nie al die toernooie kon bywoon weens haar voorbereiding op kleibane vir die komende wêreldkampioenskap.

Sy gaan in April voor die wêreldkampioenskap ook aan die Montenegro-toernooi in Suidoos-Europa deelneem.

Milan speel al tennis vandat sy ses jaar oud is. Sy het van die begin af uitgeblink. Sy het Boland-, Wes-Kaap- en Westelike Provinsie-kleure in tennis behaal en het ’n rits oorwinnings op haar kerfstok.

Sy is vanjaar gekies vir Tennis Suid-Afrika se junior nasionale span. Verlede jaar is sy vir die Westelike Provinsie se o.13-interprovisionale span gekies.

Onder haar ander mees onlangse prestasies is ’n eerste plek in enkelspel in die Growth Point Winelands Super 8 GS 12, asook Growth Point Cape Town Super 8 GS 12, wat in Desember plaasgevind het.

Sy het die Eden Grand Prix GS 14 in Augustus gewen en was tweede in the Cape Town ProKennex Winter Mini GS 14 in Junie.

Milan het in 2020 ook haar Boland- en Wes-Kaap-kleure in hoogspring behaal en is dieselfde jaar gekies om aan die SA kampioenskap in hoogspring deel te neem, maar dis weens die Covid-19-pandemie gekanselleer.

In haar vryetyd kom die akademie aan die beurt.

Hoewel sy eers in die derde kwartaal verlede jaar by Curro Durbanville aangesluit het, was sy steeds derde in haar graad wat akademie betref.

Haar ma, Simoné, ’n onderwyseres by die Hoërskool Vredendal, het Maandag opgewonde vanuit Bloemfontein met TygerBurger gedeel dat haar dogter pas die nasionale kampioenskap gewen het.

“Al was die skuif Kaapstad toe nie een van die maklikste besluite van haar lewe nie, werk Milan elke dag baie hard om haar droom te bereik.

“Sy is gedrewe en pak elke uitdaging wat die lewe haar bied met presisie aan en gee haar beste. Sy is nie net ernstig oor haar sportloopbaan, maar ook haar akademie,” sê sy.

 

Lees die oorspronklike artikel hier: Jong tennisspeler van Durbanville mik hoog | Netwerk24